Pages

Tuesday 24 June 2014

Meer mense doen minder beter




Meer mense doen minder beter!
Die hospitaal/kerk metafoor
Ek kom dikwels in hospitale! Nie soseer as 'n pasiënt nie, maar as 'n besoeker. Daar is egter die uitsondering. Verlede jaar het my seun Christiaan met Kroep in die hospitaal beland en ek het 'n aand daar saam met hom deurgebring.  
Baie onlangs was ek self in teater vir 'n naeltjie-breuk operasie wat ek op die muurbal baan opgedoen het.

Terwyl ek daar in die hospitaal was, het die hele hospitaal "setup" my gefassineer.  Alles en almal werk. Elkeen het 'n baie spesifieke taak en hy doen dit wat hy moet doen gefokus en goed.  Van die dokter wat opereer tot die persoon agter die toonbank wat jou toelaat, tot die dame wat die vloere skoonhou, tot die portier wat jou na jou kamer vergesel - almal werk gefokus. Elkeen doen wat hy moet doen.  Selfs die teatersuster  het 'n baie spesifieke manier hoe sy jou as die pasiënt wat nou baie baie diep gaan slaap rustig en kalm kan hou.

Elke persoon in 'n hospitaal is onmisbaar, omdat elkeen se taak belangrik is. As daar nie dokters is nie, is daar nie kennis oor siektes nie, as daar nie susters is nie, is daar nie versorging nie, as daar nie kombuispersoneel is nie, is daar nie kos nie, as daar nie skoonmakers is nie, is daar kieme wat weer 'n invloed het op die pasiënte.


Kan jy jou indink wat sou gebeur as daar nie verskillende mense met verskillende take was nie?
Verbeel jou jy moet dringend die dokter sien want jy is besig om baie bloed  te verloor, en iemand kom sê die dokter kom sodra hy die teater se vloer skoon gemaak het. Of jy het pas wakker geword na 'n operasie en is besig om geweldige pyn en ongemak  te beleef en die saalsusters is  nie beskikbaar nie want hulle is besig om 'n ander saal se beddens oor te trek. 

Die tipe optrede sal net nie werk in 'n hospitaal nie.  Elkeen in die hospitaal het 'n spesifieke taak en wanneer hy dit goed doen kan 'n hospitaal funksioneer en word mense optimaal gesond en versorg en dan doen 'n hospitaal wat dit moet doen - genees mense. Van 'n hospitaal kan ons sê
 dat daar baie mense is wat die werk doen, maar elkeen het 'n bepaalde taak waarop hy homself toespits, en vervul daarom sy taak beter. Dus: meer mense doen minder beter!

Onmiddelik het dit my laat dink aan wat die Bybel vir ons vertel oor gelowiges se verksillende gawes (Efesiers 4, 1 Kor 12,) en hoe ons mekaar daarmee moet dien (Joh 13). Stel jouself voor 'n geloofsgemeenskap of dan kerk wat dieselfde werk as 'n hospitaal...


Die kerk het soos 'n hospitaal verskillende mense, met verskillende persoonlikhede, gawes en maniere van doen.  Die kerk het soos 'n hospitaal die doel om mense aan die lewe te hou of selfs hul lewens te red. In 'n hospitaal is dit fisiese lewe en by gelowiges is dit om geestelik te lewe.  In die kerk, soos in 'n hospitaal, is daar iets om voor te werk.  By die hospitaal is dit dalk 'n salaris of werkstrots en "common humanity" by die kerk is die motivering omdat daar klaar vir jou betaal is - Jesus het tog ons rekening ten volle betaal daar op Golgota.  En daarom wil ons nou na mense omsien soos Christus van ons vra. So kan ons nog vele vergelykings tref.  

Maar hier is die vraag? In baie kerke werk dit soos in 'n hospitaal wat nie goed funksioneer nie - 'n hospitaal waar net 'n paar mense 
al die werk doen en in die proses ly ander skade, beleef pyn en gaan dood.

Ons sien dikwels hoe daar baie verskillende mense met verskillende gawes in 'n kerk is, maar mekaar en ander nie gefokus dien en doen wat die Here vir hulle gegee het om te doen nie.  Die gevolg is dat net 'n paar gelowiges die werk doen en dit is dan wanneer mense geestelik verlore gaan.  Van sulke kerke kan ons sê:
 "minder mense doen meer ... en dan val die pap op die grond".

Daar kan verskeie redes wees waarom kerklikes so optree: Dit kan wees dat hulle dalk bang is omdat hulle voel hulle nie toegerus is nie of dalk besef hulle nie dat daar klaar vir hulle betaal is nie of hulle ken net eenvoudig nie Jesus se hartklop oor naasteliefde en diens nie. 


Dalk moet ons weer by 'n goed funksionerende hospitaal gaan kers opsteek oor hoe kerkwees kan werk as elkeen net doen waarvoor die Here hom geroep het volgens die gawes wat die Gees ons gegee het. Hier is 1 Kor 12:7 en 31 van toepassing:

 Aan elkeen afsonderlik word 'n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal. (7)
  Lê julle toe op die beste genadegawes. (31)


Maar ons kan die metafoor van die hospitaal kerk ook anders sien. 'n Hospitaal is 'n plek waar siek en seer mense gesond kan word. Die doel van 'n hospitaal is nie dat mense daar bly nie, maar dat hulle gesond sal word en uit sal gaan om as gesonde mense in die samelewing te funksioneer.

Dit is ook wat die kerk (die gelowiges) moet wees.  Dit moet 'n plek wees waar mense kan weet daar is versorging en liefde.  Dit is 'n plek waar ons mekaar se wonde verbind en 'n skouer is vir mekaar.  
Dit is 'n plek waar sondaars kan weet dat daar liefde is en dat daar geestelike genesing by Jesus te vinde is.  Maar die bedoeling is altyd weer dat mense dan moet uitgaan en weer as "geneesde" mense (dissipels) moet funksioneer in die samelewing. 
Na 'n harde week waar ons Jesus gevolg het en deelneem aan die Opdrag wat Christus gegee het, kan ons weer bymekaar kom en weer die wonde verbind en mekaar bemoedig, troos en moed inpraat.  Die kerk se bedoeling is nooit dat mense daar moet vashaak en net daar moet bly  nie. Dit is 'n basis - 'n lanseerplek die wêreld in.





Sunday 1 December 2013

Lewenstaak en dagtaak

Hand 20:24.Ek het onlangs weer na die gedeelte gekyk. Ons almal se lewenstaak is om die evangelie van God se genade te leef en te vertel.Ons dagtaak:interne ouditeur,akteur,onderwyser,prokureur,ingeneur,watter beroep jy ookal in staan is slegs die voertuig waarmee ons ons lewenstaak verrig.Iets om oor te dink.

Friday 26 July 2013

Klein is die nuwe groot

Vandag se wêreld lyk so:

Die fokus van vandag se wêreld is om van bo af te regeer oor ander mense, dit is 'n stryd om mag, eer en eerste wees.  Mense werk kliphard om bo uit te kom sodat hulle oor ander kan regeer en kan baas speel.  Ons wil groot en belangrik wees in mense se oë.
Ongelukkig het hierdie wêreldse manier van dink en doen ook in die kerke ingesluip.  Die wêreldse se siening van eerste wees en groot wees het ook die kerk se siening geword.  Verloorders in die samelewing is ook verloorders in die kerk van die Here.  Suksesverhale in die wêreld is ook suksesverhale in die kerk. Belangrike mense in die samelewing is ook die belangrikes in die kerk.
Jy weet, Johannes en Jakobus het ook hierdie siening gehad.  Markus 10 vertel hoe hulle die ereplekke langs Jesus wou hê as Hy as koning heers.  En dan gee Jesus 'n heel ander antwoord as wat hulle verwag. Markus 10:42-45
“Julle weet dat dit by die nasies so is dat hulle sogenaamde regeerders oor hulle baasspeel en dat hulle groot manne die mag oor hulle misbruik.
Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees;
en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar(slaaf) wees.

Jesus se wêreld is heeltemal omgekeer. Kyk bietjie: wat sê Jesus:
"As jy groot wil wees, moet jy dien, as jy eerste wil wees moet jy almal se dienaar wees"

Dit wat in die wêreld na 'n wen lyk is 'n verloor en dit wat eerste is in die wêreld se siening is laaste in God se Koninkryk.
Jesus sê basies: as jy groot wil wees word klein.
So in Jesus se wêreld is die driehoek omgedraai:

Jesus se Koninkryk is heel omgekeer, onderste bo en agterstevoor – dit is radikaal anders.   Deur klein te word, deur te dien, deur die minste te wees, deur die wang te draai, deur slaaf te wees,deur nog 'n ekstra kilometer te loop word jy groot.  Hierdie is eintlik 'n baie positiewe uitspraak van Jesus, want Hy wys ons juis hoe ons in Sy Koninkryk kan groot word en hoe ons eerste kan wees.  God self het klein (mens) geword, 'n slaaf kom word en ander kom dien - en Hy is die Koning van die heelal!

Om groot te wil wees soos die wêrled dit sien is 'n houding waarvan ons moet bekeer.  Ons moet weer van ons troontjies afklim waar ons rustig agteroor sit en bedien wil word, en eerder dienaars word.  Ons houding moet een wees van "Bottoms up" en nie "top to bottom" met hierargie, gemak, selfsug, en 'n selfgerigtheid nie.
Ons moet 'n houding hê waar ons nie neerkyk op ander nie, maar opkyk soos Jesus in sy dissiples se oë gekyk het toe Hy hulle voete gewas het.


Jesus sê self: Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en Sy lewe te gee as'n losprys.
As die koning van die heelal so houding gehad het en Hy vra dat ons Hom sal volg, kan ons dit maar gerus doen.  Klein is toe nou die nuwe groot.





















Thursday 9 May 2013

Breekbaar - Hanteer versigtig



Jy moes al bokse gesien het waarop staan - "Breekbaar" en dan net onder dit staan daar nog twee woorde: "hanteer versigtig".
Dit kom gewoonlik op bokse voor waarvan die inhoud breekbaar is en wanneer jy die boks hanteer moet jy dit met alle versigtigheid hanteer, sodat die inhoud daarvan nie breek nie.
Ek wonder baie keer...hoekom kan ons dit op bokse lees waarvan die inhoud dalk glas is, of leweloos is, maar as dit by mense kom hanteer ons hulle nie dieselfde nie.

As mens rondry in die verkeer of by besighede instap, of selfs net tv kyk, dan sien ons gereeld hoe mense mekaar afbreek, indoen, sleg hanteer, of selfs ignoreer.

Jy weet, die Here sê so duidelik in sy Woord dat ons mekaar moet opbou in liefde (Ef 4:16), dat ons mekaar se laste moet dra (Gal 6:2), dat ons mekaar moet dien in liefde (Gal 5:13).

As dit die opdrag is dan moet ons proaktiewe opbouers wees in mense se lewe.  Dan moet ons eerder ons gawes gebruik om mense wat ons paaie kruis te dien.  Ons moet in ander se lewe inbou, sodat hulle die Here nog beter sal dien en nog n beter uitsig op Hom sal hê.

Hoe kan jy mense opbou?  Bou in mense se lewe in deur opbouende woorde, deur jou gebede, deur n vermaning, deur leiding te gee, met die gawe van wysheid , of onderskeidingsvermoë.  Belê met jou gawes in ander se lewe.

Dan bou jy op, dan belê jy, dan het jy jou naaste lief.

Dalk vergeet ons soms dat mense deur misdaad, egskeidings, teleurstelling, siekte gebreek word.  Kan jy dink as ons mekaar se stories ken, hoe kan ons dan mekaar se wonde verbind,en hoe kan ons mekaar help of sommer net n skouer te wees en laste te dra.
Dit is die kerk se roeping:
Stukkende mense moet by die kerk van die Here kan ontdek dat ander mense die plakker op hulle raaksien  "breekbaar, hanteer versigtig". (Stephan Joubert)

Wanneer jy dus in die alledaagse lewe rondbeweeg en met mense werk, hanteer elkeen versigtig, probeer sy storie ken want ons is breekbare mense.  Bou op, dra, vertroos, hanteer versigtig is die taal wat die kerk moet praat.

Ek het op hierdie video clip afgekom, wat presies illustreer dat elke mens 'n storie het, en as ons moeite doen om elkeen se storie te ken, kan jy weet waar om daardie persoon met jou gawe te bedien.

Tuesday 16 April 2013

Waarmee meet ons?

Ek het onlangs n boek gelees van George Barna - Revolutionary Parenting, waarin hy iets noem wat my brein heeltemal gebreek het.  Wat is die maatstaf waarmee ons bv ons kinders aan meet, of ons huwelike of jou man of vrou?
Neem byvoorbeeld jou kind, dit gebeur dat kinders gemeet word aan die standaarde wat die samelewing as goed of sleg beskryf.   Kinders is goed want hulle:

  • het n dak oor die kop, kos, en klere
  • is fisies gesond
  • word versorg deur ouers
  • het goeie vriende
  • is nie in "gangs" betrokke nie
  • doen nie dwelms nie
  • is nie alkoholis nie
  • is nie seksueel aktief nie
  • is nie betrokke in n kulte of satanisme nie
  • word nie mishandel nie
Dit is die maatstawwe waarmee ons meet, en dit is seker goeie standaarde, maar dit is alles standaarde wat die samelewing bepaal, ons meet hulle aan verkeerde standaarde.  Sonder dat ons weet het ons onsself die regter gemaak van wat reg, verkeerd, goed of sleg is in kinders se lewe.
Dieselfde geld vir jou man of vrou, of vir julle huwelik.  Ons meet graag ons man of vrou aan die standaarde wat die samelewing stel.
Jy sien as ons die samelewing se standaarde gebruik of iets goed of sleg is vervang ons God met onsself.  Ons vergeet van God se woord as ons vra of ons goed doen in ons huwelik of goed doen met die opvoeding van ons kinders, as ons volgens die samelewing meet.  Wanneer ons volgens die samelewing se kriteia meet en ons voel ons is in lyn met die kriteria, dink ons ook dat ons in God se wil  is, terwyl sy wil anders is.

Wat is die punt?  God moet die absolute regter wees van hoe goed ons doen in ons huwelike of doen met die groot maak van ons kinders of hoe jy as vrou/man  doen.  God meet ons harte. Sy standaarde is anders, Sy standaarde is die van liefde, diensbaarheid en algehele gehoorsaamheid aan Hom.  Meet volgens God se standaarde en nie volgens die standaarde van die samelewing nie.