Pages

Thursday 9 May 2013

Breekbaar - Hanteer versigtig



Jy moes al bokse gesien het waarop staan - "Breekbaar" en dan net onder dit staan daar nog twee woorde: "hanteer versigtig".
Dit kom gewoonlik op bokse voor waarvan die inhoud breekbaar is en wanneer jy die boks hanteer moet jy dit met alle versigtigheid hanteer, sodat die inhoud daarvan nie breek nie.
Ek wonder baie keer...hoekom kan ons dit op bokse lees waarvan die inhoud dalk glas is, of leweloos is, maar as dit by mense kom hanteer ons hulle nie dieselfde nie.

As mens rondry in die verkeer of by besighede instap, of selfs net tv kyk, dan sien ons gereeld hoe mense mekaar afbreek, indoen, sleg hanteer, of selfs ignoreer.

Jy weet, die Here sê so duidelik in sy Woord dat ons mekaar moet opbou in liefde (Ef 4:16), dat ons mekaar se laste moet dra (Gal 6:2), dat ons mekaar moet dien in liefde (Gal 5:13).

As dit die opdrag is dan moet ons proaktiewe opbouers wees in mense se lewe.  Dan moet ons eerder ons gawes gebruik om mense wat ons paaie kruis te dien.  Ons moet in ander se lewe inbou, sodat hulle die Here nog beter sal dien en nog n beter uitsig op Hom sal hê.

Hoe kan jy mense opbou?  Bou in mense se lewe in deur opbouende woorde, deur jou gebede, deur n vermaning, deur leiding te gee, met die gawe van wysheid , of onderskeidingsvermoë.  Belê met jou gawes in ander se lewe.

Dan bou jy op, dan belê jy, dan het jy jou naaste lief.

Dalk vergeet ons soms dat mense deur misdaad, egskeidings, teleurstelling, siekte gebreek word.  Kan jy dink as ons mekaar se stories ken, hoe kan ons dan mekaar se wonde verbind,en hoe kan ons mekaar help of sommer net n skouer te wees en laste te dra.
Dit is die kerk se roeping:
Stukkende mense moet by die kerk van die Here kan ontdek dat ander mense die plakker op hulle raaksien  "breekbaar, hanteer versigtig". (Stephan Joubert)

Wanneer jy dus in die alledaagse lewe rondbeweeg en met mense werk, hanteer elkeen versigtig, probeer sy storie ken want ons is breekbare mense.  Bou op, dra, vertroos, hanteer versigtig is die taal wat die kerk moet praat.

Ek het op hierdie video clip afgekom, wat presies illustreer dat elke mens 'n storie het, en as ons moeite doen om elkeen se storie te ken, kan jy weet waar om daardie persoon met jou gawe te bedien.

No comments:

Post a Comment