Pages

Tuesday 24 June 2014

Meer mense doen minder beter




Meer mense doen minder beter!
Die hospitaal/kerk metafoor
Ek kom dikwels in hospitale! Nie soseer as 'n pasiënt nie, maar as 'n besoeker. Daar is egter die uitsondering. Verlede jaar het my seun Christiaan met Kroep in die hospitaal beland en ek het 'n aand daar saam met hom deurgebring.  
Baie onlangs was ek self in teater vir 'n naeltjie-breuk operasie wat ek op die muurbal baan opgedoen het.

Terwyl ek daar in die hospitaal was, het die hele hospitaal "setup" my gefassineer.  Alles en almal werk. Elkeen het 'n baie spesifieke taak en hy doen dit wat hy moet doen gefokus en goed.  Van die dokter wat opereer tot die persoon agter die toonbank wat jou toelaat, tot die dame wat die vloere skoonhou, tot die portier wat jou na jou kamer vergesel - almal werk gefokus. Elkeen doen wat hy moet doen.  Selfs die teatersuster  het 'n baie spesifieke manier hoe sy jou as die pasiënt wat nou baie baie diep gaan slaap rustig en kalm kan hou.

Elke persoon in 'n hospitaal is onmisbaar, omdat elkeen se taak belangrik is. As daar nie dokters is nie, is daar nie kennis oor siektes nie, as daar nie susters is nie, is daar nie versorging nie, as daar nie kombuispersoneel is nie, is daar nie kos nie, as daar nie skoonmakers is nie, is daar kieme wat weer 'n invloed het op die pasiënte.


Kan jy jou indink wat sou gebeur as daar nie verskillende mense met verskillende take was nie?
Verbeel jou jy moet dringend die dokter sien want jy is besig om baie bloed  te verloor, en iemand kom sê die dokter kom sodra hy die teater se vloer skoon gemaak het. Of jy het pas wakker geword na 'n operasie en is besig om geweldige pyn en ongemak  te beleef en die saalsusters is  nie beskikbaar nie want hulle is besig om 'n ander saal se beddens oor te trek. 

Die tipe optrede sal net nie werk in 'n hospitaal nie.  Elkeen in die hospitaal het 'n spesifieke taak en wanneer hy dit goed doen kan 'n hospitaal funksioneer en word mense optimaal gesond en versorg en dan doen 'n hospitaal wat dit moet doen - genees mense. Van 'n hospitaal kan ons sê
 dat daar baie mense is wat die werk doen, maar elkeen het 'n bepaalde taak waarop hy homself toespits, en vervul daarom sy taak beter. Dus: meer mense doen minder beter!

Onmiddelik het dit my laat dink aan wat die Bybel vir ons vertel oor gelowiges se verksillende gawes (Efesiers 4, 1 Kor 12,) en hoe ons mekaar daarmee moet dien (Joh 13). Stel jouself voor 'n geloofsgemeenskap of dan kerk wat dieselfde werk as 'n hospitaal...


Die kerk het soos 'n hospitaal verskillende mense, met verskillende persoonlikhede, gawes en maniere van doen.  Die kerk het soos 'n hospitaal die doel om mense aan die lewe te hou of selfs hul lewens te red. In 'n hospitaal is dit fisiese lewe en by gelowiges is dit om geestelik te lewe.  In die kerk, soos in 'n hospitaal, is daar iets om voor te werk.  By die hospitaal is dit dalk 'n salaris of werkstrots en "common humanity" by die kerk is die motivering omdat daar klaar vir jou betaal is - Jesus het tog ons rekening ten volle betaal daar op Golgota.  En daarom wil ons nou na mense omsien soos Christus van ons vra. So kan ons nog vele vergelykings tref.  

Maar hier is die vraag? In baie kerke werk dit soos in 'n hospitaal wat nie goed funksioneer nie - 'n hospitaal waar net 'n paar mense 
al die werk doen en in die proses ly ander skade, beleef pyn en gaan dood.

Ons sien dikwels hoe daar baie verskillende mense met verskillende gawes in 'n kerk is, maar mekaar en ander nie gefokus dien en doen wat die Here vir hulle gegee het om te doen nie.  Die gevolg is dat net 'n paar gelowiges die werk doen en dit is dan wanneer mense geestelik verlore gaan.  Van sulke kerke kan ons sê:
 "minder mense doen meer ... en dan val die pap op die grond".

Daar kan verskeie redes wees waarom kerklikes so optree: Dit kan wees dat hulle dalk bang is omdat hulle voel hulle nie toegerus is nie of dalk besef hulle nie dat daar klaar vir hulle betaal is nie of hulle ken net eenvoudig nie Jesus se hartklop oor naasteliefde en diens nie. 


Dalk moet ons weer by 'n goed funksionerende hospitaal gaan kers opsteek oor hoe kerkwees kan werk as elkeen net doen waarvoor die Here hom geroep het volgens die gawes wat die Gees ons gegee het. Hier is 1 Kor 12:7 en 31 van toepassing:

 Aan elkeen afsonderlik word 'n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal. (7)
  Lê julle toe op die beste genadegawes. (31)


Maar ons kan die metafoor van die hospitaal kerk ook anders sien. 'n Hospitaal is 'n plek waar siek en seer mense gesond kan word. Die doel van 'n hospitaal is nie dat mense daar bly nie, maar dat hulle gesond sal word en uit sal gaan om as gesonde mense in die samelewing te funksioneer.

Dit is ook wat die kerk (die gelowiges) moet wees.  Dit moet 'n plek wees waar mense kan weet daar is versorging en liefde.  Dit is 'n plek waar ons mekaar se wonde verbind en 'n skouer is vir mekaar.  
Dit is 'n plek waar sondaars kan weet dat daar liefde is en dat daar geestelike genesing by Jesus te vinde is.  Maar die bedoeling is altyd weer dat mense dan moet uitgaan en weer as "geneesde" mense (dissipels) moet funksioneer in die samelewing. 
Na 'n harde week waar ons Jesus gevolg het en deelneem aan die Opdrag wat Christus gegee het, kan ons weer bymekaar kom en weer die wonde verbind en mekaar bemoedig, troos en moed inpraat.  Die kerk se bedoeling is nooit dat mense daar moet vashaak en net daar moet bly  nie. Dit is 'n basis - 'n lanseerplek die wêreld in.





No comments:

Post a Comment